Ons trek…alweer!

Gelukkig is die trek nie ver nie. Ek dink soos die kraai vlieg, seker nie eers ‘n volle kilometer nie!

 

My vroutjie is verskriklik opgewonde oor die nuwe plekkie. Dit het baie meer spasie, ‘n nice uitleg, is redelik modern en op die grond. Ons gaan self goeters soos gordynrelings opsit, so die naweek moet baie besluite geneem word. Die kinders is ook baie opgewonde.

 

Dis nie asof ons sleg gebly het in die woonstel nie. Inteendeel, ons het baie lekker gebly. Dis baie veilig. Dit was redelik ruim en nogal mooi afgewerk. Ons het helse groot vensters daar; om die waarheid te sê was ons hele buitemuur vensters. Die woonstel kyk uit oor die Hottentots-Holland berge wat ‘n lieflike uitsig is. En agv van die hoek waarteen die woonstelblok gebou is, kry ons geen direkte sonlig in die somer nie, maar heeldag direkte sonlig in die winter, heerlik! En dan is daar amper geen onderhoud nie. Ons krag en water is selde meer as R350 per maand. Die slegste was sekerlik die feit dat braai ‘n moerse mission was en dat ons in ons 18 maande daar ons braaie op my twee hande kan tel. Pfft!

 

Maar nou, nou is dit verby! Braai is terug op die menu. Met mening. En dis ‘n lekker huis. Nie oordadig in enige sin nie, net lekker!

 

Dit kos effens meer, maar dit was te wagte…ons huidige blyplek is ‘n absolute bargain.

 

Dit gaan baie lekker wees. Ons hele gesin sien verskriklik uit! Hierdie keer trek ons met ‘n smile…

‘n Resep…ek beweer mos ek kan kos maak

In ons huis maak ek kos. Ek is mal daaroor. En die beste van als? Ek maak self skoon waar ek gemors het…en kan ek mors!

Ek dink dis seker tyd dat ek ‘n resep deel. Hierdie resep is (soos die meeste resepte seker) nie my eie om mee te begin nie, maar ek het darem oor die jare hom so bietjie gecustomise!

Eers bietjie agtergrond: Ek is mal oor groente, regtig. Maar as ek potjies eet vind ek dat die groente verkeerd gebruik word en dan is 1) die smaak negatief beinvloed en 2) dis ‘n pap gemors ipv heel. Mens moet groente wat uit ‘n potjie kom nog met ‘n vurk kan steek en optel. Dis in elk geval hoe ek daarvan hou…die vleis kan van die been val, maar die groente moet nog solid wees.

En een mooi dag sit en kyk ek TV en Alan Coxon maak ‘n potjie (!) en dis asof die hemele oopgaan en engele sing!

Chuck en sampioen potjie (6-8 mense):

2kg ontbeende chuck ‘gecube’ (as jou pot groot genoeg is hou die bene en gooi dit los by)

350g gedroogde wilde sampioene (varses is ook reg, maar dan het jy omtrent 1kg nodig). Laat lê hulle in lou water wat hulle net bedek vir so uur voor gebruik.

250g spek

2 groot uie fyn gekap

10 medium tamaties geskil in kwarte

3 tot 4 eetlepels fyngemaakte knoffel

10 salie blare

3 brandrissies

Halwe teelepel neutmuskaat

400ml Sherrie

500ml rooiwyn

1 suurlemoen

Sout, Swartpeper, Olie (gebruik ‘n olie met hoë rookpunt asb, Meelblom, Pietersielie)

1. Kry potjie lekker warm oor kole (of die stoof werk net so goed!) en gooi olie by

2. Gooi sout en peper oor vleis en pak in pot. Voeg spek by en braai tot goed geseël.

3. Laat die potjie effens afkoel. Gooi uie by en braai vir ‘n paar minute. Gooi dan knoffel by.

4. As die chuck baie vet is, gooi nou so bietjie meelblom by en meng goed (die meelblom absorbeer die vet).

5. Meer kole en kry potjie weer lekker warm – die klomp vloeistowwe gaan die potjie baie afkoel…

6. Gooi rissies, salie, neutmuskaat en sampioene by en braai vir ‘n paar minute.

7. Gooi nou al die vloeistowwe in (ook die water waarin die sampioene gelê het)

8. Nou moet die spulletjie prut. Sodra dit begin prut gooi die tamaties by. Verkieslik moet die potjie nie veel langer as 3 ure prut nie anders behou die blokkies vleis nie hulle vorm nie.

9. As die vleis reg is gooi die sap van die suurlemoen en die pietersielie by net voor die potjie bedien word.

Ek verkies die potjie met mieliepap, maar my vrou verkies dit met mash. Ons het dit al met rys ook geëet. Mens kan nou heerlike oondgebakte groente saam voorsit.